As jy jou kind moet groet?



Ongelooflike getuienis...

AS JY JOU KIND MOET GROET

'n Paar jaar na my twee seuns se geboorte het ek, elke nou en dan 'n
gedagte gekry dat ek een van my kinders gaan verpleeg op 'n siek bed.
Ek kon nie sê watter seun dit gaan wees nie, maar die gedagte het
gereeld by my opgekom.

Jaundre is in Desember 2006 gediagnoseer met kanker. Ons moes die dag
van diagnose onmiddelik Kaapstad to gaan vir behandeling by Rooi-Kruis
Kinder hospital. Die behandeling was intensief, maar hy het goed
gereageer daarop ten spyte van al die newe-effete van chemoterapie.
Binne 10 dae was die 6cm tumor wat op sy borsbeen was feitlik weg. Die
dokters was baie positief. Na omtrent 'n maand is Jaundre ontslaan om
sy behandeling voort te sit in PE. Alles het goed verloop en ons het
met die Junie maand skool vakansie terug gegaan Rooi Kruis hospitaal
toe vir 'n opvolg ondersoek. Weereens het die spesialiste ons verseker
alles verloop volgens plan. Ons was in daardie tyd 24 uur van die dag
op ons kneë om te smeek vir genade en ook daarna om dankie te sê vir
Sy genade wat ons ontvang het. Ek het gereken die gedagte wat ek so
gereeld gekry het, is die kanker en dat dit nou sal weggaan, maar dit
het nie ek het dit nogsteeds gekry.

Vanaf omtrent September 2007 het Jaundre vir my gevra "hoe lank gaan
hy nog by ons wees"? Ek het aangeneem dit is die kanker wat hy gehad
het wat hom hierdie idees gee. Einde November 2007 het ons besluit om
te gaan kamp vir 'n naweek, want altwee seuns geniet dit by die see.
Jaundre het begin kla dat sy hartjie vinnig klop. Ons het hom die
Maandag more dokter toe gevat en nie in die aand soos die gewoonte was
nie. Die dokter het bloed toetse gedoen wat alles normal gewys het. Hy
is toe verwys na die x-straal afdeling. Die middag het ek die
spesialis gebel om die uitslae te kry, maar moes toe verneem dat die
kanker terug is en dat die tumor 9cm is wat groei op sy borsbeen. Ons
moes onmiddelik terug Kaapstad toe gaan. Vandat ons daar gekom het was
die dokters meer negatief oor genesing as positief. Hy het met meer
intensiewe behandeling begin en sy liggaampie was heeltemal afgetakel.

Teen die 24ste Desember het die dokters vir ons gesê om huis toe te
kom want ons is besig om die stryd te verloor, maar hoe op aarde
vertel jy vir 'n 12 jarige seun wat by sy volle positiewe is dat hy
besig is om dood te gaan? Ek kon dit nie doen nie. Daar was een chemo
tipe wat oorgebly het maar die dokters het dit nie aanbeveel nie omdat
dit so sterk is en hy sou dood gaan van die newe effekte en nie die
siekte nie. Ek het gevra dat hulle daarmee begin. Na die eerste week
van behandeling waarin hy geen newe effekte gekry het nie, moes hy 3
weke wag voordat hy weer kon begin om sy gesonde selle tyd te gee om
te herstel. Hy het intussen begin kla van rugpyn en seer bene. Vrydag
die 25ste Januarie 2008 het die dokter ons meegedeel dat die kanker
verder versprei het na die beenmurg toe en dat ons liewer moet huis
toe gaan, medies gesproke kan hulle niks meer doen nie. Ons moes vir
hom die nuus gaan oordra.

Vandat Jaundre gediagnoseer was het hy met niks n keuse gehad nie, nie
met die diagnose nie, nie met die behandeling nie, en nou ook nie met
die dood nie. Ek het vir hom gesê die Here sal hom eers gaan wys hoe
dit in die Hemel is en dan kan hy besluit of hy daarheen wou gaan of
liewer by ons bly. Ons het die Here gesmeek vir daardie voorreg, want
ek kon nie my kind net so laat gaan met sy onsekerheid nie. Hy wou
weet as hy sou kies om liewer by ons te bly, of hy dan nog gaan siek
wees of gesond. Ek GLO die Here sou hom vir my gesond terug gegee het
as dit SY wil was.

Ons het met die Here geredineer, geargumenteer, gesmeek, maar sy wil
was om my seun hemel toe te neem. Die spesialiste het ons n maand saam
met ons seun gegee, maar ons het net een goue week gehad. Ons het elke
nag gelê en gesels. Saterdag oggend net na 10h00 is hy oorlede, maar
sekondes voor sy dood het dit gelyk asof hy uit die bed uit wou klim,
hy het sy nek gedraai en vas gestaar teen n spesifieke punt teen die
muur, weer na my gekyk en vir my gesê "Ek is lief vir jou mamma, maar
DIS LEKKER DAAR"!

Ek glo die Here het vir my kind gaan wys waarheen hy hom gaan neem en
dat Jaundre vir die eerste keer self kon besluit of hy na daardie
"LEKKER" plek wou gaan en of hy na my toe terug wou kom. Hy het die
Hemel gekies. Daarvoor loof en prys ons die Here.

Die Woensdagaand na die roudiens het ek gaan slaap, ek het nie Bybel
gelees of gebid nie, dit was asof ek dood was van binne ek kon net
niks doen nie. Jaundre en ek het altyd gespot omdat my hare so
vreeslik uitgeval het. Hy het altyd gesê ek gaan voor hom bles wees,
en dan sy hande deur my hare getrek en my in my nek gesoen. Daardie
nag het ek wakker geskrik (Geestelik wakker) van n handjie in my hare
en n koel soentjie in my nek. Ek het onmiddelik geweet Jaundre is by
my. Ek kon aanvoel dat hy haastig was. Ons het gesels, en hy het onder
andere vir my gese "die OOM" het die pypie in sy bors uitgehaal en dit
was glad nie seer nie. Ons het hom veras met pypie en al (chemoterapie
drippie in sy hoofslagaar ) Ek GLO die Here het daardie pypie
uitgehaal, want niemand anders het nie. Hy het na n rukkie vir my gesê
hy moet nou gaan. Hy het omgedraai en geloop asof van nêrens was daar
skielik n tweede persoon by hom, wat ek net van agteraf gesien het.
Daardie persoon het my kind se hand gevat en weggeloop, maar ek WEET
hy is gelukkig en dat hy graag wil teruggaan waarvandaan hy gekom het.

Ons kan die Here nie genoeg loof vir daardie versekering nie. Die
gemoedsrus is onbeskryflik. So twee weke na die gebeurtenis het ek
weer met die Here gepraat en vir hom gevra hy moet Jaundre net weer
vir my wys, ek het berusting waar hy is, maar ek verlang so
verskriklik baie. Daardie nag het ek "gedroom" ek sien twee hande in
een gevou. Uit die lug het 'n bak "kruik" geval. Die hande het dit
gevang en 'n stem het vir my gesê, "Soos daardie paar hande die kruik
gevang het, so vang die Here sy kinders, as jy in Sy hande is kan NIKS
jou daaruit kry nie, jy kan nie jou seun nou al sien nie, daar is te
veel siele op die aarde wat nie reg is nie, MAAK DIT REG!"

Dit is waarom hierdie getuienis uitgestuur word na so veel as moontlik
mense, want ons moet seker maak ons siele is reg vir die Here. Daar IS
n HEMEL, maar daar IS ook n hel. Moet nie wag tot more nie, dit kan te
laat wees. Die Hemel en Hel het nie n ouderdoms groep beperking vir
bejaardes alleen nie.
Neem 'n oomblik en neem Jesus aan as jou verlosser en saligmaker.
GEBED Dankie Vader dat U U Seun gestuur het om vir my sondes aan die kruis te sterf. 
Jesus, neem asseblief my bede na die Vader. In Jesus Naam, Amen.
Die een het ek op die Blog geplaas op 24 Sept 2011.
Maar ek sal nie weet hoekom het ek nie genoem wie die kosbare mense is nie.
Ek vermoed dit is Madelyn Victor




Comments

Popular Posts