Eendag

 
Eendag is nie op die kalender nie
“Ek gaan nog eendag groot dinge vir die Here doen.”
“Eendag as ek meer tyd op hande het, gaan ek weer by die kerk betrokke wees.”
“Eendag as die misdaad afneem...” “Eendag as herlewing uitbreek...”
Sulke taal is aan die orde van die dag in ons woordeskat.
Toe onthou ek ‘n liedjie van John Foggerty van die Creedence Clearwater Revival faam wat sing: “Someday never comes.”
Toe besef ek daar is nie ‘n dag met die naam “eendag” op ons kalenders is nie.
Daar’s wel ‘n Maandag, Dinsdag, Woensdag... maar nêrens ‘n eendag nie.
So ‘n dag bestaan eenvoudig nie.
Ons het dit self opgemaak.
Op God se kalender is daar wel een ander dag, naas ‘n Donderdag, Vrydag, Saterdag of Sondag.
Ek praat van VANDAG. 2 Korintiërs 6:2 skryf dat vandag God se gunsteling dag is.
Dit is sy dag van redding.

Vandag is die dag van groot dinge, nie môre of oormôre nie.
Ook nie volgende week of aanstaande jaar nie.
Te veel mense sit al hulle hoop op eendag.
Tog het God net vandag vir ons gegee om tot Sy eer te leef.
Hy het vandag op die hemelse kalender aangeteken en by ons elkeen afgelewer wat hierdie woorde lees.
Ons het vandag as ‘n geskenk uit die Here se hand ontvang.
Ons moet elke stukkie tyd wat in vandag weggepak
is van hoek tot wal uitkoop, soos wat Paulus vir die Efesiërs skryf.

Vandag is kosbaar.
Dit is die enigste stukkie
tyd wat ons tans tot ons beskikking het.
Gister is reeds ‘n nagreis agter ons en môre lê nog ver in die toekoms.
Maar vandag kan ons met vars woorde en opregte dade die Here eer en ander mense dien, soos wat
Kolossense 3 van ons vra. Hoekom dan wag tot eendag?
Daar‘s in elk geval nie so ‘n dag op enige kalender nie.
Kies vandag en leef!

Comments

Popular Posts