Genade


GENADE IS `n reusewoord. Amper TE GROOT om te verstaan.
Omdat genade ons OORMAAK:

Genade is iets wat eenvoudig gegee word. Genade neem die
onbruikbare stukkies van ons laslappielewe en werk dit, nog voor
ons vra, aanmekaar in pragtige heelwees-prentjies. Dit neem
die hart wat deur die modder gesleep is hemelse wassery toe
en hang dit weer - silwerskoon en netjies gestryk - op die
hanger van die lewe. Dit maak moedeloses weer mense van
hoop, verander bitterheid in vergifnis en herskep verlorenes
in Ewigheidskinders. Deur genade word `n troostelose toekoms
Omskep in `n lewe wat uitsien na more.

Goddelike genade stel nie voorwaardes nie, het nie verwag-
tinge nie, deel nie reels uit nie en verwyt nooit nie. Dit sę:
Ek het jou lief net soos jy is. Jy hoef nie `n eers-mens te
wees nie: iemand wat eers moet doen, werk, lyk, gee en
dien nie. Ek gee aan jou My vergifnis, aanvaarding en liefde
terwyl jy is wat jy is. Want Ek het gekom om uitgetorringde
lappiesmense se lewe aanmekaar te werk tot `n hemelse
Eenheid.

God se genade is te groot om te verstaan. Tog is dit waaroor
ons geloof gaan. Waaroor die liefde, die lewe en die ewigheid
Saam met Christus gaan.

Gelukkig hoef ons nie eers die omvang van God se gee-genade
te begryp voor ons dit aanvaar nie. Ons kan dit, wat so onvoor-
waardelik aan ons geskenk word, maar net met dankbaarheid
omarm en ons eie maak.

Comments

Popular Posts