MARK SHUTTLEWORTH - eerste Suid-Afrikaner in die ruimte


  

MARK SHUTTLEWORTH  - eerste Suid-Afrikaner in die ruimte

Sy droom om die buitenste ruimte te betree, kon net verwesenlik word met baie, baie geld.
En dié het hy gehad-danksy 'n ongelooflike meevaller tydens die groot internet-oplewing rondom die jongste eeuwisseling.

"Elkeen van ons het 'n droom, 'n begeerte, iets wat ons in die lewe wil verwesenlik," sê die geesdriftige jong Suid-Afrikaner
op 'n mediakonferensie in Rusland.
Sy blou oorpak is versier met die Suid-Afrikaanse vlag-'n duidelike aanduiding van sy onverbloemde trots op sy land van herkoms.

Tuis wag sy landgenote met ingehoue asem op die lansering van 'n Sojoez-tuig wat hom die eerste mens uit Afrika in die ruimte sal maak.
Ná maandelange, veeleisende opleiding deur die Russe, is die jong man uiteindelik gereed om te vertrek-om ook Suid-Afrika sy plek van
glorie in die ry van ruimtenasies te laat inneem.

"Ek het altyd gehoop en geglo dat ek in die ruimte sou kon vlieg," sê hy op die mediakonferensie, "maar ek het altyd geglo ek sou moes
wag vir die dag dat ek as 'n passasier kon vlieg."

Só was dit in April 2002 toe Mark Shuttleworth, Suid-Afrikaanse internet-miljoenêr en entrepreneur, op 28-jarige leeftyd die wêreld se
tweede toeris in die ruimte geword het.
Mark se groot passie vir die tegnologie het hom na Sterstad in Rusland gelei, waar hy opgelei is vir 'n vlug na die Internasionale Ruimtestasie.

Daar is destyds berig dat Shuttleworth se ruimtereis van tien dae hom 20 miljoen Amerikaanse dollar uit die sak gejaag het-dieselfde bedrag
wat die wêreld se eerste ruimtetoeris, Amerika se Dennis Tito, vroeër vir hierdie voorreg opgedok het.
Ná veel glorieryker tye spartel die Russiese ruimteagentskap maar deesdae om sy begroting te laat klop.
Shuttleworth en Tito se baie dollars is dus met dank ontvang.

Maar Shuttleworth kon die toegangsgeld vir sy ruimtereis uit sy agtersak betaal. Op 22-jarige leeftyd het hy met 'n saak vir internet-konsultasie,
Thawte Consulting, in sy ouers se garage in die Kaap begin.
Die klem het spoedig van internet-konsultasie na internet-sekuriteit vir elektroniese saketransaksies verskuif, en Mark het sy onderneming uitgebrei
tot die eerste maatskappy buite Amerika wat 'n webbediener met volledige sekuriteit vir die e-handel winsgewend kon bedryf.

Vier jaar later het sy groot kans gekom. Hy het sy fabelagtige rykdom te danke aan 'n transaksie in Januarie 2000 ten tyde van die destydse groot
oplewing in internet-verwante sakebedrywighede.
Mark het Thawte, met sy dertig werknemers, aan die Amerikaanse mededinger Verisign verkoop vir 4,4 miljoen van Verisign se gelyste aandele.

Verisign se aandele was destyds op pad na 'n hoogtepunt van meer as 250 dollar elk. Shuttleworth het die aandele verkoop so spoedig as wat hy kon.
Dit sou 'n briljante sakemaneuver blyk te wees, want die ineenstoring van die e-handel was om die draai.
Mark het sy aandele in 'n netjiese kontantstapel van 560 miljoen dollar omgeskakel, wat destyds vir R4,6 miljard geruil kon word.

Hy het uiteindelik nagenoeg 130 dollar per aandeel ontvang-strate meer as die skamele sowat 18 dollar per aandeel wat Verisign byvoorbeeld in die begin van Februarie 2004 werd was.

Een van die eerste dinge wat Mark gedoen het toe hy sy onderneming verkoop het, was om sy Suid-Afrikaanse werkers by sy kantore in Durbanville in die Kaap minstens R1 miljoen elk te belowe. Onder hulle was twee skoonmakers en 'n tuinier.

MARK RICHARD SHUTTLEWORTH is op 18 September 1973 in Welkom in die Vrystaat gebore, maar het in die Kaap grootgeword.
Sy pa is Richard Dalton Shuttleworth, 'n chirurg, en sy ma se naam is Ronelle. 

Rekenaarspeletjies het Mark van kleins af geboei en dis ook daar waar sy belangstelling in die tegnologie begin het.

Terwyl hy vir sy graad in die sakewetenskap (finansies) aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, het hy vir die eerste keer met die internet kennis gemaak.
Kort voor lank was hy gefassineer deur die veranderings wat dit in saketransaksies en die gemeenskap sou bring.
Dit was danksy hierdie fassinasie dat hy uiteindelik ook sy ruimtedroom kon verwesenlik.

Nadat hy sy kaartjie ontvang het om in die ruimte te reis, is Mark nege maande lank in Rusland opgelei.
Hy het ook vyf dae lank in die Amerikaanse ruimte-agentskap (Nasa) se Johnson-ruimtesentrum deurgebring.

Internasionale RuimtestasieREGS: Die  Internasionale Ruimtestasie, soos hy by sy voltooiing sal lyk.
Mark het in 2002 'n aantal dae lank daar vertoef en proewe gedoen.
 
Mark het soveel Russies geleer dat hy 'n groot deel van die gesprekke tussen die sendingbevelvoerder, Joeri Gidzenko, en die grondbemanning kon volg.
Die derde bemanningslid aan boord van die Sojoez-TM34-vuurpyl  was die Italiaanse vlugingenieur Roberto Vittori.

Mark was egter nie net 'n ruimtepassasier nie, maar het tydens sy ekskursie tussen hemel en aarde ook verskeie wetenskaplike proefnemings gedoen.
Een eksperiment was die heel eerste ter wêreld om die uitwerking van gewigsloosheid op die ontwikkeling van stamselle en embrio's te bepaal.

Nog 'n proefneming was om vas te stel watter uitwerking mikro-aantrekkingskrag op die hartbloedvatestelsel en spiere het. '
n Derde eksperiment was vir vigsnavorsing: 'n poging om HIV-proteïene in 'n gewiglose toestand te laat kristalliseer in die hoop dat hulle, onder X-strale,
'n akkurate beeld van die virus se struktuur sou bied.

Hierdie proefnemings was onder die beheer van toonaangewende Suid-Afrikaanse wetenskaplikes van die universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Port Elizabeth,
in samewerking met kundige Russiese ruimtewetenskaplikes.

Een koerant het berig dat Shuttleworth byna R5 miljoen betaal het (stellig buite en behalwe die 20 miljoen dollar vir sy "kaartjie")
om die proefnemings te kon doen en vir die akkomodasie van Suid-Afrikaanse wetenskaplikes in Rusland.

Mark se vlug is, soos verwag kon word, met groot belangstelling in Suid-Afrika gevolg.
Die lansering vanaf die Baikonoer-ruimtehawe in Kasakstan is regstreeks op die Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai.
En tydens Vredesdagvieringe in die Vrystaat-Stadion het duisende mense verwonderd toegekyk terwyl oud-pres. Thabo Mbeki met Mark gesels het kort nadat hy
by die Internasionale Ruimtestasie aangekom het.

Mnr. Mbeki het ook Mark in 'n verklaring 'n dapper pionier vir Suid-Afrika en sy vasteland, Afrika, genoem.

Mark se ruimte-avontuur het op 25 April 2002 begin en 5 Mei geëindig toe die landingstuig van die Sojoez veilig in Kasakstan geland het.

SHUTTLEWORTH is in Suid-Afrika gekritiseer omdat hy soveel geld aan 'n persoonlike avontuur bestee het.
Maar hy het baie van die kritiek besweer deur onder meer 'n veldtog te loods om wetenskap en wiskunde by skole te bevorder.
Sy opvoedingstigting, The Shuttleworth Foundation, skep sagteware om skole in ontwikkelende lande te help.

Die ambisieuse jong Suid-Afrikaner wat ervaar het hoe sy droom bewaarheid is, beskou nie verniet dagdromery as een van die baie dinge waarvan hy die meeste in die lewe hou nie.

In Suid-Afrika het sy ruimtereis geweldig baie gedoen om die nasietrots te versterk en plaaslike belangstelling in die wetenskap aan te wakker.

Soos dr. Ben Ngubane, toenmalige Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, tydens Mark se uittog gesê het: "As 'n nasie vier ons dit vandag waar hy geskiedenis maak
as Afrika se eerste baanbreker in die ruimte.
Sy ontmoeting met die grense van die ruimte het alle Suid-Afrikaners, oud en jonk, herinner aan die ongelooflike mag van die wetenskap, ingenieurswese en die tegnologie."

In 2002 het Mark Shuttleworth 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad ontvang vir sy "vindingryke entrepreneurskap en sy
lofwaardige bydrae tot die bevordering van die wetenskap en tegnologie by die jeug".



Met vergunning van egafrikaans.co.za
Uit Danie se nuusbrief

ePosVriende blog    http://eposvriende.blogspot.com

Facebook     www.facebook.com/ResepteRecipes 



Comments

Popular Posts