IS JY DEEL VAN DIE BROMVOËL-FAMILIE ?

Sonder dat mens dit agterkom kan jy maklik in ʼn bromvoël ontaard, ʼn klakous van die eerste water. En in die laaste tyd, is daar oënskynlik genoegsame redes om te kla in Suid-Afrika, en tog: kla jy nie dalk met ʼn witbrood onder die arm nie? En wil die Here hê ons moet kla? As ek my klalysie ondersoek dan kla ek oor die misdaad, te min reën, te veel reën, die petrolprys, die dokter wat my laat wag, die baie karre op die pad en die voorgestelde tolgelde op die snelweg.

Tot ek gister ʼn e-pos van iemand uit China kry met die volgende statistiek (ek gee dit soos wat ek dit gekry het) wat sê dat indien ʼn mens die wêreldbevolkings proporsioneel tot ʼn 100 verminder sal 80 mense brandarm en 70 ongeletterd wees met net 1 gegradueerde. En as jy ʼn bankrekening het, en ʼn paar munte in jou sak, is jy een van agt bevoorregtes uit die 100. Toe begin ek weer dink. As jy boonop nog nie die verskrikking van ʼn oorlog meegemaak het, die binnekant van ʼn oorvol tronk of die ellende van hongersnood ervaar het nie, is jy beter af as 500 miljoen ander mense. En as jy ongehinderd jou kerk mag bywoon is jy geseënd bo 3 biljoen ander. Met ʼn yskas in jou huis, ʼn dak oor jou kop, ʼn bed en klere vir jou lyf is jy ryker as 71% van die wêreld se bevolking en as jy nou die stukkie kan lees is jy meer bevoorreg as twee biljoen ander. Net vir in geval jy vandag weer wou brom! ( Johann Symington)

IN GESPREK MET JESUS

Here, elke keer wanneer ek wil ophou tel aan my seëninge, word ek weer gewys op ander wie se lot baie swaarder as myne is. Dankie vir U uitsonderlike seën aan my, ook al brom ek.
Uit Anna Eksteen se nuusbrief 


Comments

Anonymous said…
Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
God het jou lief. Lees jou Bybel.

Popular Posts