Jelly Tot-nougat


Jelly Tot-nougat

 
2 velle ryspapier
250 ml suiker
80 ml heuning
20 ml glukose (by apteke beskikbaar)
30 ml water
3 eierwitte
5 ml rooswater
100 g pienk Jelly Tots of selfs pienk Turkse lekkers wat in stukke gesny is

Voer ’n vierkantige koekpan van 20 cm uit met een vel ryspapier en hou eenkant.

Verhit die suiker, heuning, glukose en water in ’n kastrol oor baie lae hitte tot die suiker opgelos is.
Gebruik ’n kwas en warm water en verf enige suikerkristalle af wat teen die kant van die kastrol vaskleef. Sodra die suiker opgelos is, bring die stroop tot kookpunt en kook tot hardekraakstadium (150 °C op ’n suikertermometer).
Dit is noodsaaklik om nie weer te roer sodra die mengsel begin kook het nie. Hou die stroop dop, dit verander baie vinnig van temperatuur.
Klits intussen die eierwitte tot stywe punte vorm en giet die stroop stadig by terwyl gedurig geklits word. (Laat iemand die stroop vir jou ingooi terwyl jy klits.)
Klits sowat 10 minute of tot die mengsel afgekoel, dik en blink is.

Roer die rooswater en Jelly Tots by die nougatmengsel in en meng goed.
Skep die mengsel in die voorbereide pan en maak gelyk. Plaas die ander vel ryspapier bo-op die nougat. Plaas ’n houtplank of iets swaars op die nougat en laat dit oornag in die yskas staan.
Sny in blokke en verwyder uit die pan. Verpak in ’n lugdigte houer.

WENK: Die nougat is baie sag; werk dus versigtig wanneer jy dit sny.


Comments

Popular Posts