26 Lewensfeite

26 LEWENSFEITE VIR VROUE - MARETHA MAARTENS:

1. Die ego van 'n trouman is so dun soos 'n membraan. Bly
weg van 'n man met 'n ego wat nog dunner is. Telkens wanneer die
pieperige ego'tjie skeur, gaan die eienaar jou verantwoordelik hou vir
lyding en verlies aan lewensgehalte. 

2. Moenie oorhaastig verloof raak of trou nie. As dit ewige
liefde is gaan hy nie toelaat dat iemand anders hom binne die volgende
ses maande opraap, ontvoer of blywend betower nie. 

3. Vroue wat nie trou nie, het hul redes. Gelukkig vir die
mansgeslag is die vrouens te diskreet om dit aan die hele wereld bekend
te maak. 

4. Wanneer aanneemkinders op hulle aanneemouers se harte
trap, is dit nie omdat hulle aanneemkinders is nie, dit is omdat hulle
kinders is. 

5. Jou bejaarde ouers se harte is so broos en breekbaar
soos hulle heupe. 

6. Jou getroude dogter (en skoondogter!) se skokkende
kaste, vaal kastrolle, harde kussings, kunsveselkomberse, kitcherige
skilderytjies en taai ketel is reg net soos dit is. 

7. Soms is dit net een van daardie dinge! 

8. Jy hoef nie alles by te woon, te sluk, te onthou, te
ondersteun, te besit, te weet of alleen te hanteer nie. 

9. Jou gewig is reg solank jou regterbobeen nie jou
linkerbobeen rou skaaf nie. 
 
10. Wat jy nou beleef, gaan ook verby. 
 
11. Die geveg teen oud word is interessant, maar in
aanvaarding lê 'n skat van vrede opgesluit. 
 
12. Wanneer ons ophou om mooi aan te trek en net in
sweetpakke en oorgroot T-hemde rondloop, jok ons wanneer ons sê: "Ek
voel gemaklik so." Wat ons eintlik sê is "Ek voel ongemaklik oor
myself." 
 
13. God gee om. 
 
14. Die ouer wat 'n obsessie ontwikkel oor een talent in
haar kind se lewe, kom selde agter hoeveel potensiële vriende haar kind
verloor. 

15. 95% van kinders op wie daar druk van hierdie aard
geplaas word, gooi daardie talent na skool weg en vind terselftertyd dat
hulle die kuns om hulself deel van 'n groep te maak, nie op 20 eers kan
aanleer nie. 

16. Egskeiding is nie 'n onvergeetlike sonde nie, maar dis
'n haaiaanvaal op kinders. 

17. Seks is veronderstel om lekker te wees. 
 
18. Die saad van die allerverskriklikste sondes lê onder
die sand van elkeen van ons begrawe. Dit wag net vir die regte
omstandighede om te ontkiem. 
 
19. Was daar nie onverdiende genade nie, was dit ek. 
 
20. Maak meer en meer sagte plekke in jou hart vir meer en
meer mense. 
 
21 Kinders het hulle ouers se ore nodig. 
 
22. Wees veral versigtig wat in jou hart omgaan, want dit
bepaal jou lewe. 
 
23. Die lewe is hard. Mans soek sagtheid. 
 
24. 'n Vrou moet nie te toegeeflik, te afhanklik, te
praterig, te stil, te onafhanklik, te agterdogtig, te goedgelowig, of te
haastig wees nie. 'n Vrou het styl wanneer sy
begrypend-menslik-uitreikend-belangstellend-sterk-nie onder 'n kalkoen
uitgebroei nie-goedgesind-onversteurbaar-kalm leef en optree. 
 
25. Om net te wil hê is kinderagtig. 
 
26. As jy 'n kat of hond het, gaan jy ontdek dat hy kan
 praat. 
 

 

Comments

Popular Posts