Bak en Brou saam met die 7de Laners

FELICITY SE VLASKYWE

 

1 pak (200g) Cream Cracker-beskuitjies

1 Liter melk

250 ml suiker

60g botter of margarien

120 ml koekmeel

80 ml  vlapoeier

2 ml sout

100 ml koue water

3 eiers geskei

5 ml vanieljegeursel

500 ml versiersuiker, gesif

40 ml kookwater

 

Metode:

 

Smeer 'n vlak glasbak van 35 x 25 x 5 cm.

Pak 15 van die beskuitjies in rye van 5 x 3 op die boom van die bak sodat die breeklyne van al die beskuitjies in dieselfde rigting lĂȘ.

Verhit die melk in 'n groot kastrol tot kookpunt.

Voeg die suiker en botter of margarien by en roer tot gesmelt.  Haal van die stoof af.

Meng die koekmeel, vlapoeier, sout en koue water deeglik.

Voeg die eiergele by en klits goed.

Klits 'n bietjie van die melkmengsel geleidelik in die vlamengsel in.

Giet terug in die kastrol by die res van die melk.

Roer aanhoudend oor lae hitte en kook sowat 5 minute tot dik.

Haal van die stoof af en roer die vanieljegeursel in.

Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en vou liggies met 'n metaallepel in die vlamengsel in.

Giet die warm vla oor die beskuitjies in die voorbereide bak.

Bedek die vla met 'n verdere 15 beskuitjies in rye van 5 x 3 sodat die breeklyne in dieselfde rigting as die onderste laag s'n is.

Laat die vlavulsel afkoel en plaas in die yskas om heeltemal koud te word.

Meng die versiersuiker en kookwater tot 'n smeerbare versiersel.

Giet dit stadig oor die beskuitjies en smeer eweredig oor.

Hou dit in die yskas tot benodig.

Sny die vlaskywe so groot soos die halwe kraakbeskuitjies en sit voor.

         

Maak 15 skywe.


GEORGE SE KOURABIEDES

(Griekse Brosbrood)

 

125g ongesoute botter

125g margarien

125 ml suiker

1 eiergeel

500 ml koekmeel

125 ml Maizena

10 ml brandewyn

2 ml fyn naeltjies

150 ml amandels, gerooster en fyngekap

heel naeltjies

30 ml versiersuiker

 

Metode:

 

Voorverhit die oond tot 160°C.

Smeer 'n bakplaat.

Room die botter, margarien en suiker.

Voeg die eiergeel by en klits tot liggeel en romerig.

Voeg die koekmeel, mielieblom, brandewyn, fyn naeltjies en fyn amandels by en knie tot 'n gladde deeg.

Plaas in die yskas tot hanteerbaar.  (sowat 30 minute)

Rol die deeg ongeveer 3 cm dik uit en druk vorms met 'n koekiedrukker uit.

Steek 'n heel naeltjie in elkeen.

Plaas die vorms op die bakplaat en bak vir 15 - 20 minute tot strooikleurig.

Sprinkel versiersuiker kwistig oor die warm koekies.

         

Maak ongeveer 10 koekies.

 

 

BART SE CréME BRULéE

 

500 ml room

10 ml vanieljegeursel

5 eiergele

375 ml strooisuiker

ekstra strooisuiker om oor te sprinkel

 

Metode:

 

Voorverhit die oond tot 150°C.

Bring die room tot kookpunt in 'n middelslag kastrol.

Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel in.

Klits die eiergele en strooisuiker tot lig en romerig.

Giet die room versigtig by die eiermengsel en meng deeglik.

Giet die vlamengsel in 4 ramekins en bak 20 minute in 'n waterbad in 'n voorverhitte oond tot net gestol.  Laat in die waterbad afkoel en plaas daarna oornag in die yskas.

Sprinkel net voor opdiening strooisuiker oor die vla en karamaliseer dit met 'n blaasvlam of onder die warm oondrooster.

         

Genoeg vir 4 mense.

 


CHARMAINE SE KARAMELFUDGE

 

160g margarien of botter

75 ml gouestroop

1 blik (397g) kondensmelk

325 ml melk, verhit tot kookpunt

6 x 250 ml suiker

250 ml koekmeel

2 ml kremetart

10 ml karamelgeursel

 

Metode:

 

 

Smeer 'n bakpan of vlak bak van minstens 28 x 18 x 3 cm.

Smelt die botter of margarien en gouestroop saam in 'n groot dikboomkastrol oor lae hitte.

Voeg die kondensmelk en kookmelk by en meng.

Meng die suiker en koekmeel, voeg dit by die melkmengsel en meng deeglik.

Roer die mengsel aanhoudend oor lae hitte tot kookpunt en voeg die kremetart by.

Kook dit sowat 25 minute oor lae hitte tot die sagtebalstadium en roer aanhoudend met 'n houtspaan om aanbrand te voorkom.
Haal die mengsel van die stoof af, roer die karamelgeursel in en klits met 'n houtlepel tot dit begin styf word.

Giet die fudge in die voorbereide pan of vlak bak en maak bo-op gelyk.

Sny dit in 2,5 cm blokkies voor dit heeltemal hard is.

         

Maak ongeveer 60 blokkies.

 

 


MARCO SE VRUGTEBROODJIE

 

675 ml water

500 ml ligbruinsuiker

250g pitlose rosyntjies

5 middelslag geelwortels, grof gerasper

30 ml botter

5 ml fyn kaneel

2 ml fyn neutmuskaat

knippie fyn naeltjies

2 x 250 ml meelblom

10 ml koeksoda

10 ml bakpoeier

1 ml sout

250 ml gekapte okkerneute of pekanneute

 

Metode:

 

Voorverhit die oond tot 160°C.

Voer die boom van 'n 26 x 9 x 7 cm broodpan uit en olie dit liggies.

Meng die water, suiker, rosyntjies, geelwortels, botter, kaneel, neutmuskaat en naeltjies in 'n groot kastrol.

Bring tot kookpunt, bedek en laat 10 minute prut.

Giet in 'n groot mengbak en laat staan tot heeltemal afgekoel.

Sif die droë bestanddele saam.

Roer die wortelmengsel in en voeg die neute by.

Giet die beslag in die voorbereide broodpan en bak 1 uur in 'n voorverhitte oond tot ferm.

Keer op 'n afkoelrak uit en laat afkoel.

Sny in skywe en sit saam met botter voor.

         

Maak 1 groot brood of 20 snye.

 

 


MARIA SE APPEL EN ROSYNTJIEMUFFINS

 

125g margarien

125 ml suiker

2 eiers

1 blik (385g) appelskywe, grof gekap

125 ml pitlose rosyntjies

250 ml melk

2 ml vanieljegeursel

500 ml koekmeel

20 ml bakpoeier

2 ml sout

kaneelsuiker om oor te strooi

 

Metode:

 

Voorverhit die oond tot 200°C.

Smeer 18 holtes van muffinpanne.

Room die margarien en suiker.

Voeg die eiers een vir een by en klits die mengsel tot lig en donsig.

Die mengsel kan dalk skif, maar sal regkom sodra die res van die bestanddele bygevoeg word.

Voeg die appels, rosyntjies, melk en vanieljegeursel by en roer tot gemeng.

Voeg die droë bestanddele by en meng net tot die meel aangeklam is - dit sal nog klonterig wees.

Skep die muffinpanne se holtes driekwart vol beslag en sprinkel kaneelsuiker oor.

Bak vir 20 - 25 minute in die voorverhitte oond.

Sit warm voor saam met botter.

         

Maak 18 muffins.

 

 

HILDA SE DADELVINGERS

 

250g margarien

250 ml suiker

500g dadels, fyngesny

1 eier goed geklits

1 pak (200g) Mariebeskuitjies, in stukkies gebreek

100g groen kersies

100g rooi kersies

klapper om oor te strooi

 

Metode:

 

Smeer 'n 16 x 26 cm koekpan.

Smelt die margarien en suiker saam oor lae hitte sonder dat die mengsel verbruin.

Voeg die dadels en eier by en roer baie goed sodat die eier egalig ingemeng word.

Voeg die beskuitjies en heel kersies by, meng deeglik en haal van die stoof af.

Gooi die mengsel in die voorbereide pan en maak bo-op gelyk met 'n mes.

Strooi 'n bietjie klapper oor en laat koud word.

Sny in vingers van 3 x 6 cm.

         

Maak 36 - 40 koekies.

 


OUBAAS SE HERTZOGGIES

 

Kors:

450 ml koekmeel (ongesif afgemeet)

35 ml strooisuiker

10 ml bakpoeier

1 ml sout

125g margarien, by kamertemperatuur

3 eiergele van ekstragroot eiers

15 ml koue water

 

Vulsel:

50 - 75 ml fyn appelkooskonfyt

3 eierwitte van ekstra-groot eiers

300 ml suiker

500 ml klapper (160g)

 

Metode:

 

Kors:   Sif die koekmeel, strooisuiker, bakpoeier en sout saam.

Vryf die botter of margarien liggies met die vingerpunte in tot goed gemeng.

Klits die eiergele en water effens, voeg by die meelmengsel en meng tot 'n sagte hanteerbare deeg.

Voeg nog 'n bietjie water by as die deeg te styf is.

Knie die deeg goed, bedek en laat eenkant staan.

Voorverhit die oond tot 180°C.

Smeer die holtes van die kolwyntjiepanne.

Rol die deeg dun uit op 'n meelbestrooide werkoppervlak.

Druk groot sirkels met 'n koekiedrukker uit en voer die panne se holtes daarmee uit.

Vulsel:  Skep 'n teelepel appelkooskonfyt in die middel van elke korsie.

Klits die eierwitte tot styf.

Klits die suiker geleidelik in.

Roer die klapper in.

Skep lepels vol van die vulsel op die appelkooskonfyt op die korsies.

Bak die koekies 20 - 25 minute op die middelste oondrak.

Laat hulle effens afkoel in die panne en haal dan versigtig uit en laat heeltemal afkoel op

'n draadrak.

 

Maak 12 - 15 koekies.

 


EMMA SE SJOKOLADEKOEK

 

Moir's se sjokoladekoekmengsel

2 eiers

50 ml olie

200 ml melk

Vulsel:

1 blik karamelkondensmelk

Versiersel:

75g margarien by kamertemperatuur

480 ml versiersuiker

60 ml kakaopoeier

kookwater

heel okkerneute om te versier

 

Metode:

 

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 2 ronde 20cm koekpanne.

Besprinkel liggies met meel.

Koek:  Plaas die koekmengsel in 'n groot mengbak.

Voeg die eiers, olie en melk by en klits ongeveer 1 minuut stadig met 'n elektriese klitser.

Klits daarna 2 minute teen die hoogste spoed.

Giet die beslag in die voorbereide panne en bak vir 30 minute.

Laat 10 minute in die panne afkoel en keer dan op 'n draadrak uit en laat heeltemal afkoel.

Vulsel:  Smeer die karamelkondensmelk op die een helfte van die koek en plaas die ander helfte bo-op.

Versiersel: Klits die botter en versiersuiker tot gemeng.

Los die kakaopoeier in 'n bietjie kookwater op en voeg dit by.

Klits baie goed.

Smeer versiersel bo-op die koek en versier met heel okkeurnete.

Sprinkel ekstra kakaopoeier liggies oor.


MANDLA SE KARAMELKAASKOEK

 

Kors:

1 pakkie (200g) Tennisbeskuitjies, gekrummel

60g margarien, gesmelt

Vulsel:

30 ml gelatien

150 ml kookwater

2 pakkies Creamo-roompoeier

300 ml yswater

500g romerige maaskaas

250ml strooisuiker

30 ml suurlemoensap

1 pakkie karamelkitspoeding

400 ml melk

flake, gekrummel om oor te strooi vir versiering

 

Metode:

 

Voer die kante van 'n veerklamppan met waspapier uit.

Kors:  Meng die krummels en botter en druk op die boom vas.

Plaas in yskas tot benodig.

Vulsel: Los die gelatien in die kookwater op.

Klits die 2 pakkies Creamo 2 minute saam met die yswater.

Klits die maaskaas, strooisuiker en suurlemoensap saam.

Vou eers dié mengsel in die geklitste room in en daarna die afgekoelde gelatien.

Klits die poeding en melk 2 minute lank en vou dit in die mengsel in.

Skep die mengsel oor die kors in die pan.

Hou oornag in die yskas tot verm.

Versier met fyn flake.

 

Maak 1 groot tert.

 


DE WAAL SE BESKUITJIESTRUIF

 

1 pakkie aarbeijelliepoeier

225 ml kookwater

225 ml koue water

1 blik aarbeie, gedreineer

500 ml dik vla

1 blik karamelkondensmelk

1 pak Tennisbeskuitjies, grof gebreek

125 ml pekanneute, gekap

 

Metode:

 

Los die jelliepoeier in die kookwater op.

Voeg die koue water by en meng.

Laat dit in die yskas stol.

Breek die jellie liggies op met 'n vurk.

Skep an die vrugte onder in 4 glase.

Skep van die vla oor en daarna 'n bietjie kondensmelk.

Pak van die gebreekte beskuitjies op en skep van die jellie oor.

Sprinkel van die pekanneute oor.

Herhaal die lae tot al die bestanddele opgebruik is.

Plaas die beskuitjiestruif in die yskas.

Sit voor my roomys of  geklitste room

 

Genoeg vir 4 mense.

 

 

PAULA SE TEESKONS

 

500 ml koekmeel

15 ml bakpoeier

2 ml sout

75 ml strooisuiker

65g margarien

1 eier

125 ml melk

Opdiening:

1 pakkie Creamo

150 ml yswater

aarbeikonfyt

 

Metode:

 

Voorverhit die oond tot 200°C.  Smeer 'n bakplaat.

Sif die meel, bakpoeier, sout en strooisuiker saam.

Vryf die margarien met die vingers in tot die mengsel soos krummels lyk.

Meng die eier en melk en voeg by die meelmengsel.

Meng liggies net tot al die bestanddele aangeklam is.

Druk die deeg tot 20 mm dik op 'n meelbestrooide oppervlak uit.

Sny sirkels met 'n koekiedrukker uit.

Plaas op die voorbereide bakplaat en bak vir 15 minute.

Opdiening:  Klits die Creamo 2 minute met die yswater.

Sit die skons voor saam met aarbeikonfyt en geklitste room.

 

Maak ongeveer 8 skons.

DEZI SE KOLWYNTJIES

 

125 g margarien

200ml suiker

5 ml vanieljegeursel

2 eiers, liggies geklits

500 ml koekmeel

10 ml bakpoeier

knippie sout

160 ml melk

Botterversiersel:

60g botter

250 ml versiersuiker

10 ml water

knippie sout

2 ml vanieljegeursel

sjokolade vermicelli

kleurstrooisels

         

Metode:

 

Voorverhit die oond tot 190°C.

Pak 20 papierdoppies in muffinpannetjies.

Room die botter of margarien en suiker saam tot lig en donsig.

Voeg eers die vanieljegeursel by en daarna die eiers 'n bietjie op 'n slag.

Sif die meel, bakpoeier en sout 3 keer saam en vou dit om die beurt met die melk in die bottermengsel in.

Skep die beslag in die papierdoppies en bak vir 15 minute.

Laat op 'n afkoelrak afkoel.

Versiersel:  Meng die botter, versiersuiker, water, sout en vanieje tot glad.

Smeer oor die kolwyntjies en besprinkel met vermicelli en kleurstrooisels.

 

Maak 20 koekies.

 


JAN HENDRIK SE PEPPERMENT TERT

 

Kors:

1 Pakkie (200g) Tennisbeskuitjies, gekrummel

60g margarien gesmelt

Vulsel

12 ml gelatien

140 ml water

30 ml suurlemoensap

4 eiers, geskei

250 ml strooisuiker

knippie sout

paar druppels groen kleursel

2 stafies peppermentsjokolade, gekrummel

ekstra peppermentsjokolade om mee te versier

 

Metode:

 

Kors: Meng die krummels en botter en druk dit op die boom van 'n tertbak vas.

Plaas in yskas tot benodig.

Vulsel:-Week die gelatien in die helfte van die water.

Klits die res van die water, suurlemoensap, eiergele, die helfte van die strooisuiker en

sout saam in 'n swaarboomkastrol.

Verhit die mengsel oor lae hitte terwyl gedurig geroer word, tot dit verdik.

Roer die gelatienmengsel in en laat afkoel.

Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en klits die res van die suiker geleidelik in.

Vou die mengsel saam met diekleursel in die eiergeelmengsel in.

Vou daarna die gekrummelde peppermentsjokolade in en skep in die kors.

Rasper die ekstra peppermentsjoldade oor en plaa in die yskas tot gestol.

Sluit aan by Resepte Ruil: (Afrikaans & English) johanna4-384577@autocontactor.com

Join Recipe Exchange: (English only) johanna4-384579@autocontactor.com

Join or visit us at www.eposvriende.com or http://links.eposvriende.com
ePosVriende

1903 60th PL
Suite M4159
Bradenton, FL
34203
US


Comments

Popular Posts