Mosterd en SuurdeegMatteus 13:31-35

 

  

Kyk, as jy nou ‘n groot boom wil hê, dan plant jy ‘n groot pit. Vat nou maar ‘n kokosneutpalm: daar is darem maar vir jou ‘n menéér van ‘n pit! In die tropiese eilande waar hulle natuurlik voorkom, staan die bome dikwels reg op die strand. As die kokosneut ryp word, dan val hy af en beland gewoonlik in die see, en so word hy dikwels baie ver daarvandaan op ‘n ander eiland uitgespoel, waar hy wortel skiet en groeI. Baie romanties!

 

Maar die mosterdsaad - dis nou ‘n héél ander storie. Sy pitte is piepklein swart korreltjies, sowat 1mm in deursnee, wat lyk of hulle vir niks anders nut het as om mosterd van te maak nie. Dis mos net bossies wat sulke klein saadjies het. Maar as daardie ou korreltjie eers ontkiem, dan begin hy te groei en groei, totdat hy naderhand ‘n groot struik is, en voor jy weet waar jy is, dan sit jy met ‘n 3 meter hoë boom, en jy slaan jou hande saam in verbasing, want wie sou nou kon dink dat so ‘n boom uit so ‘n klein saadjie sou kon groei.

 

Jesus gebruik die mosterdsaadjie en suurdeeg om die Koninkryk van God voor te stel. Suurdeeg is natuurlik ‘n ander baie handige ding. Het jy al probeer brood bak sonder suurdeeg? Ek bedoel nou regte brood - nie die soort wat jy met bruismeel bak nie. Ek belowe jou: hy kom soos ‘n baksteen daar uit die oond uit - totaal oneetbaar.  Maar meng jy nou suurdeeg in jou meel in, en jy laat hom staan en broei vir so ‘n rukkie, dan sien jy hoe daardie degie al groter en groter word, totdat hy naderhand oor die kante van jou skottel wil loop. En Mamma! hoe smaak so ‘n ou varsgebakte potbroodjie! Hoe water ‘n mens se mond dan nou so vroeg in die môre!

 

Wanneer Jesus hierdie twee beelde gebruik, dan verduidelik Hy iets van die geheim van God se Koninkryk wat ‘n mens na jou asem laat snak. Vir die Jode was dit wat Hy wou tuisbring so totaal anders as wat hulle dit voorgestel het, en selfs vandag nog sukkel ons om die konsep te verwerk. Vir ‘n Jood was die gedagte van grootsheid en heerlikheid diep ingegraveer as hulle aan die Koninkryk van God gedink het, want alles omtrent God het rondom Israel gedraai. Hulle begrip van die Koninkryk van Israel en God se ryk was so verweef, dat wanneer hulle in glorieryke taal van Israel sing, dan is God se Koninkryk terselfdertyd in hulle gedagte.

 

Nou kom Jesus en Hy beskryf God se Koninkryk as ‘n piepklein mosterdsaadjie, en dit skok die Jode uit hulle sokkies uit. Maar die groot geheim daaragter is dat dit nie gering geskat moet word nie, want al was daar aanvanklik net ‘n ou klein handjievol mense wat Jesus aanvaar het, het die evangelie skielik op pinksterdag ontplof, en gegroei en gegroei teen ‘n oorweldigende tempo, totdat dit uiteindelik oor die ganse aarde versprei is. Die ander voorbeeld wat Jesus gebruik - suurdeeg - is ook maar ‘n ou paar niksseggende grys korreltjies wat jy in ‘n skottel meel inmeng, en kyk net watter verrykende invloed het dit op die meel! Soos suurdeegkorreltjies het die eerste Christene die heidenwêreld geïnfiltreer, en die gevolge was absoluut fenominaal.

 

Vandag voel ek en jy as Christene soos klein mosterdsaadjies of grys korreltjies suurdeeg in ‘n oorweldigende wêreld van Goddeloosheid en selfs God-loosheid. As ons sien hoe misdaad in al sy vorms nie alleen in Suid Afrika nie, maar oor die ganse wêreld oor ons spoel, dan voel ons so magteloos. Maar ons moet verby die massas kyk en God se krag en almag raaksien, want in my as klein mosterdsaadjie is ‘n dinamiese groeikrag opgesluit wat net wag om tot uitbarsting te kom. Dankie tog dat dit nie ons eie krag is nie, maar die onmeetbare krag van die Heilige Gees wat in ons opgesluit lê - ons moet maar net toelaat dat Hy daardie Krag in ons kan ontsluit. Die probleem is egter dat ons bang is vir die gevolge, of as ons uiteindelik toegee, dan raak ons moedeloos omdat daar so min gebeur aan die begin. Vat nou maar ‘n mosterdsaadjie: wanneer hy ontkiem dan lyk hy steeds so klein en broos en weerbaar. Dieselfde met suurdeeg: as jy na ‘n paar minute in die skottel loer, lyk jou degie nog maar presies dieselfde - niks het gebeur nie. Maar daar is ongelooflike kragte aan die werk, en die uiteinde is oorweldigend, as jy net genoeg geduld gebruik. Uit my eie lewe kan ek met groot dank aan God getuig van die ongelooflike groeikrag wat Hy jou kan gee.

 

‘n Mosterdsaadjie lyk so niksseggend, maar dit is gepak met energie - 46% olie en 43% proteïen. Net so is die vaalgrys korreltjies van die suurdeeg eintlik ’n lewende organisme wat net wag vir die meel en water om uit te bars. Op dieselfde wyse is die evangelie op die oog af minderwaardig en niksseggend, maar wanneer ek myself tot beskikking daarvan stel, dan kom die volle krag daarin opgesluit in werking.

 

Al wat Hy van jou vra is om gewillig te wees om gebruik te word.

 

Gebed:

 

Here, gebruik my asseblief om U krag in die wêreld tot uiting te laat kom         



 
http://groups.yahoo.com/group/christelik-eposvriende
Subscribe: christelik-eposvriende-subscribe@yahoogroups.com
List owner: christelik-eposvriende-owner@yahoogroups.com

Comments

Popular Posts