Hulpvaardige mans
BEHANDEL JOU GADE MET BEDAGSAAMHEID - John:
Dit is vir mans baie belangrik om te besef dat namate vrouens ouer word, hulle dit moeiliker vind om dieselfde kwaliteit van huishouding te handhaaf as toe hulle jonger was.
Wanneer 'n man dit agterkom moet hy probeer om nie te skreeu nie*..
Laat ek julle inlig hoe ek dit hanteer.
Toe ek 'n tyd gelede my werk as konsultant verloor het, het ek 'n afleggingspakket vir "vroeë aftrede" ontvang. Dit was toe nodig dat Joyce 'n permanente werk moes aanvaar, nie net om die pot aan die kook te hou nie, maar ons het dit ook nodig gehad vir die mediese fonds-voordele.
Sy was 'n opgeleide mediese transkripsieskrywer toe ons 28 jaar gelede ontmoet het en sy was baie gelukkig om nou weer 'n soortgelyke werk te kry.
Kort nadat sy weer begin werk het, het ek agtergekom dat haar ouderdom haar inhaal.
Ek kom gewoonlik vanaf my visvang of klub dieselfde tyd huis toe as wat sy van die werk af kom. Alhoewel sy weet dat ek dan honger is, sal sy amper altyd sê dat sy dan moeg is en eers 'n halfuur of so moet rus voordat sy begin om die aandete voor te berei.
Ek probeer nie om haar te vermaan wanneer dit gebeur nie. Inteendeel, sê ek vir haar sy kan maar haar tyd gebruik. Ek verstaan dat sy nie meer so jonk as vantevore is nie.
Ek vra haar net om my wakker te maak wanneer die kos op die tafel is.
Vroeër het sy die skottelgoed onmiddellik na ete gewas.
Dit is nou egter nie meer altyd die geval nie en somtyds is die skottelgoed nog vir ure na ete op die tafel. Ek bring ook my kant deur haar telkemale gedurende die aand te herinner dat die borde nie hulleself sal was nie.
Ek weet dat sy dit waardeer, aangesien ek sien dat dit werk en dat sy tog die skottelgoed voor slapenstyd was.
Ons wasmasjien en droër is onder in die kelder.
Toe sy jonger was, kon Joyce verskeie kere per dag die trappe op en af klim sonder om moeg te word. Noudat sy ouer is, lyk dit of sy sommer baie gouer moeg word.
Partykeer sê sy vir my dat sy net nie nog een keer die trap op en af kan klim nie.
Ek maak nie 'n groot ding daarvan as sy so sê nie.
Solank sy net die wasgoed voor die volgende aand gereed het, sal ek dit oorsien.
As ek intussen dalk iets nodig het wat voor Maandagaand se snoekerspel of Woensdagaand en Vrydagaand se pokerspel of Dinsdag en Donderdag se 'bouls' gestryk moet word, sal ek vir haar sê dat sy net moet stryk wat ek benodig en dat sy die res van die strykgoed kan laat tot die volgende aand.
Dit gee haar dan so 'n bietjie meer tyd om die los werkies, soos die was van die honde, stofsuig of afstof te kan doen. Ook as ek 'n goeie dag by die viswaters gehad het, het sy dan daardie bietjie meer tyd om die vis se skubbe te krap en teen 'n gemaklike tempo te vlek.
Joyce begin so nou en dan te kla en murmureer, nie te dikwels nie, maar net genoeg sodat ek dit kan agterkom.
'n Voorbeeld hiervan is dat sy sal sê dat sy nie genoeg tyd gedurende haar etensuur het om al die maandelikse rekeninge te betaal nie.
Ten spyte van haar klagtes gee ek haar ondersteuning en aanmoediging.
Ek sê vir haar sy kan die betalings oor twee of selfs drie dae versprei.
Deur dit te doen hoef sy nie so te jaag nie en verder herinner ek haar ook daaraan dat om nou en dan 'n middagete oor te slaan haar glad nie skade sal doen nie. (As julle snap wat ek bedoel!)
Wanneer sy eenvoudige werkies doen, begin sy dink dat sy meer rusperiodes as voorheen nodig het.
'n Paar weke gelede het sy, nog voordat die grasperk halfpad gesny was, gesê dat sy 'n ruskans nodig het.
Ek ignoreer sulke aanmerkings aangesien ek weet dat dit maar net die ouderdom is wat praat.
Trouens, ek probeer om haar nie te embarrasseer wanneer sy hierdie ruskanse wil hê nie.
Ek sê sy kan gerus vir haar 'n lekker glas koue lemoensap gaan uitdruk en 'n rukkie sit.
Soms bied ek selfs aan om 'n glas sap saam met haar te drink, aangesien sy terselftertyd vir my ook 'n glas vol kan uitdruk.
Sy kan dan haar ruskansie kry deur daar by die hangmat te sit en met my te gesels tot ek aan die slaap raak.
So kan ek aangaan, maar ek dink dat julle teen hierdie tyd al agtergekom het dat ek soos 'n engel uit die hemel is, soos wat ek vir Joyce op 'n daaglikse basis ondersteun.
Ek wil nie beweer dat dit maklik is om soveel verdraagsaamheid aan die dag te lê nie. Baie mans sal dit moeilik vind, party selfs onmoontlik.
Niemand weet beter as ek hoe frustrerend vrouens kan wees namate hulle ouer word nie.
Die doel met hierdie skrywe van my is eenvoudig om julle te versoek om 'n poging aan te wend om so verdraagsaam soos ek te wees.
Om dieselfde vlak van verdraagsaamheid as ek te bereik, sit egter nie in elke man se broek nie.
Wel, deur dalk net 'n bietjie minder met julle vrouens te raas nadat julle hierdie brief gelees het, het ek in my doel geslaag en was dit die moeite werd om hierdie brief te skryf!
PS: John se begrafnis is Maandag.
Comments